ESTER 2:7-11

ESTER 2:7-11 AFR83

Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif. Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen. Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur.