Paulus het die lede van die Joodse Raad vierkantig in die oë gekyk en gesê: “Broers, ek het heeltemal 'n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.”
Toe beveel die hoëpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, om hom op sy mond te slaan. Daarop sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou skynheilige! Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geslaan moet word.”
Die mense wat by Paulus staan, sê toe vir hom: “Skel jy die hoëpriester van God uit?”
Daarop antwoord hy: “Ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie, broers. Dit ís soos daar geskrywe staan: Jy mag nie 'n leier van jou volk beledig nie. ”
Paulus het geweet dat die Raad deels uit Sadduseërs en deels uit Fariseërs bestaan. Hy roep toe in die Raad uit: “Broers, ek is 'n Fariseër en ek kom uit 'n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word.”
Toe hy dit sê, het daar rusie tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. Die Sadduseërs ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge. 'n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. 'n Paar skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: “Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar 'n gees of 'n engel met hom gepraat.”
Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het die kommandant sy soldate beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring na die kaserne toe.
Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.”
Die volgende dag het die Jode 'n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.”
Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel. Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: “Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het 'n boodskap vir hom.”
Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.”
Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: “Wat is dit wat jy my wil vertel?”
Hy het geantwoord: “Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek. U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.”
Die kommandant sê toe vir hom: “Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.”
En hy het hom toe laat gaan.
Die kommandant het toe twee kapteins geroep en hulle beveel: “Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek. Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.”
Toe skrywe hy 'n brief met die volgende inhoud:
“Van Claudius Lisias.
“Aan die hooggeagte goewerneur Feliks.
“Groete.
“Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy 'n Romeinse burger is. Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring. Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie. Toe aan my meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.”
Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan en self teruggekeer kaserne toe. Die ruitery het in Sesarea aangekom, die brief aan die goewerneur afgelewer en Paulus aan hom oorhandig. Hy het die brief gelees en vir Paulus gevra van watter provinsie hy afkomstig is. Toe hy hoor dat hy van Silisië af kom, het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom.”
Daarna het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes bewaak moet word.