Hooglied 2:1-13

Hooglied 2:1-13 DB

Ek is soos ’n veldblommetjie wat in Saron groei en soos ’n lelie in die vallei. Tussen al die ander vroue is my vriendinnetjie soos ’n lelie tussen droë takke. My vriend is ook anders. Hy is soos ’n appelboom in ’n bos. In sy skadu vind ek rus en sy vrugte is louter genot. Hy het my na ’n feesplek toe gevat en almal kon sien hoe lief hy my het. Ek is uitgeput van al die baie liefhê. Bring vir my rosyntjiebrood en appels, dat ek gou weer kan sterk word. Sy linkerarm is onder my kop terwyl sy regterarm my vasdruk en omhels. Vroue van Jerusalem, sweer by die ribbok en die takbok dat julle nie die liefde sal wakker maak nie tot dit tyd is daarvoor. Luister mooi. Daar ver klink my liefling se stem. Hy is op pad na my toe; hy hardloop oor die berge en gly oor die heuwels. My liefling is so rats soos ’n jong bokkie en so vlug soos ’n takbok. Hy staan al langs die muur by die venster en kyk deur die traliewerk na binne. Staan op, my liefste, en kom saam met my. Die winter is weg en al die reëns is verby. Oral staan die veldblommetjies in bloei en oral begin die voëls sing. Selfs die tortels hoor ’n mens al koer. Die eerste vye is ryp en die eerste trossies hang in die wingerd. Oral is daar net die geur van wingerd en van veld. Kom, my liefste, staan gou op en kom saam met my.