Spreuke 26:17-28

Spreuke 26:17-28 DB

Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp. Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak. Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie. As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie. Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid. Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word. Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne. ’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie. Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei. Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind. Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder. Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes.