Markus 9:2-13

Markus 9:2-13 DB

Ses dae het verbygegaan. Jesus vat toe vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg uit. Niemand anders was saam met hulle nie. Skielik, voor die oë van die drie mans, het Jesus heeltemal anders begin lyk. Sy klere het geskitter en geblink soos g’n mens dit ooit kan laat skitter of blink nie. Plotseling verskyn die ou Godsmanne, Elia en Moses, ook daar voor hulle en begin met Jesus praat. Petrus haak toe af en sê: “Here, dit is so lekker om hier te wees. Laat ons sommer drie huisies hier bou, een vir U en een elk vir Moses en Elia.” Petrus het eintlik net gebabbel, want hy was heeltemal verbouereerd. Hy het nie geweet wat om te sê nie, want hy was bang. Die skaduwee van ’n groot wolk val toe op hulle. Iemand praat toe uit die wolk: “Dit is die Seun wat Ek liefhet. Luister na Hom.” Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan. Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?” “Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.”