Johannes 3:22-30

Johannes 3:22-30 DB

Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop. Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word. (Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.) Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak. Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.” “Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee. Julle weet mos ek het gesê ek is nie die Christus nie. Ek is maar net soos ’n boodskapper voor Hom uitgestuur. “Laat ek vir julle ’n voorbeeld gee: die bruid is net bedoel vir die bruidegom en oor húlle gaan die troue. Die vriend van die bruidegom, die strooijonker, help maar net. As hy die bruidegom self hoor praat, maak dit hom baie bly. So is dit tussen my en Jesus ook. Daarom ken my blydskap nou nie einde nie. Hy moet al hoe meer in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees!”