Daar was nog ’n geleentheid toe Jesus so saam met sy dissipels was. Dit was by die Meer van Tiberias (die ander naam is die See van Galilea). So het dit gebeur: ’n klompie van Jesus se getrouste volgelinge was bymekaar (dit was Simon Petrus, Tomas Tweeling, Natanael - hy het uit Kana in Galilea gekom - Sebedeus se seuns en nog twee ander). Petrus was lus om te gaan visvang. Die ander is toe saam met hom. Hulle is met ’n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ’n enkele vis gevang nie.
Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal. Die dissipels was natuurlik salig onbewus daarvan dat dit Jesus was. “En toe,” roep Jesus, “het julle enigiets gevang?”
“Nee wat,” roep hulle terug.
“Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle. Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis. Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree.
Toe hulle daar land, sien hulle dat daar alreeds ’n vuurtjie brand met vis wat daarop braai. En daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ’n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.” Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie.
“Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here. Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis. Dit was die derde keer dat Jesus so aan sy getroue volgelinge verskyn het nadat Hy uit die dood opgestaan het.
Na ete vra Jesus vir Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as wat hierdie ander My het?”
“Ja, Here,” kom dit van Petrus. “U weet hoe toegewy en lojaal ek teenoor U is.”
“Kyk dan asseblief na my lammers,” vra Jesus toe.
’n Tweede keer vra Jesus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”
“Ja, Here. U weet mos hoe lief ek U het,” sê Petrus weer.
“Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op,” vra Jesus.
’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? Kan Ek heeltemal op jou lojaliteit staatmaak?”
Petrus het hartseer geword omdat Jesus so aanhou. “Here,” sê hy toe, “U hoef nie eens te vra nie, want U weet alles; ook wat in my hart aangaan. U weet mos hoe lief ek vir U is.”
“Sorg dan vir my skape,” sê Jesus. “Ek wil vir jou iets belangriks sê. Toe jy jonk was, het jy self aangetrek en jy kon stap waar jy wou. Maar as die ouderdom jou inhaal, sal jy dit nie eens meer kan doen nie. Jy sal maar net jou hande vraend kan uitsteek. Ander sal dan kom en jou aantrek en jou dra waar jy nie wil wees nie.”