Van Kajafas se huis af het hulle Jesus na die plek toe gevat waar die Romeinse heerser gewoonlik die gevangenes verhoor het. Dit was in die sterk vesting waar Pilatus gebly het. Dit was nog baie vroeg daardie oggend. Die Jode het egter nie in die binneplein van die vesting ingegaan nie, want hulle paasfees was mos aan die gang. Daarom wou hulle nie dinge doen wat hulle onrein sou maak nie. Dit sou beteken dat hulle nie die paaslam kon eet nie. Dit wou hulle nie waag nie. Pilatus het toe maar uit die vesting na die Jode toe gestap. “Laat ek hoor,” sê hy. “Wat is julle aanklag teen hierdie man?” Die Jode val toe vinnig weg: “As hy nie so ’n klomp slegte dinge aangevang het nie, sou ons mos nie die moeite gedoen het om hom te vang en na u toe te bring nie,” sê hulle. “In daardie geval kan julle hom mos sommer self verhoor. Julle het mos wette wat vir julle sê wat om te doen,” antwoord Pilatus. “Nee, ons kan nie,” kap die Jode terug. “Ons word mos nie toegelaat om iemand tot die dood te veroordeel nie.” So het nog iets waar geword wat Jesus voorspel het. Hy het mos voor die tyd vir hulle vertel op watter manier Hy sou doodgaan. Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?” Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?” “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?” Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.” “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe. “As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.” “Waarvan praat jy? Wat is die waarheid?” vra Pilatus Hom. Na die gesprek is Pilatus toe weer buitetoe. Daar sê hy vir die Jode: “Dit lyk nie vir my of hierdie man iets verkeerds gedoen het nie. Ek wil ’n voorstel maak.
Lees Johannes 18
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Johannes 18:28-38
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's