Johannes 12:34-36

Johannes 12:34-36 DB

“Nou is ons deurmekaar!” sê die mense toe. “Sover ons weet, sê die Skrif dat as die Redder eers eenmaal hier is, Hy altyd hier sal bly. Nou sê jy dat die Seun aan ’n kruis gaan hang. Waarvan praat jy? Wie is hierdie ‘Seun’?” Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is.