Handelinge 23:1-35

Handelinge 23:1-35 DB

Toe Paulus voor die Joodse Raad stelling inneem, het hy hulle ’n paar oomblikke lank aandagtig deurgekyk. Toe sê hy vir hulle: “Broers, my lewe lank dien ek God. Ek het ook nog nooit doelbewus teen sy wil opgetree nie.” Ananias, die hoëpriester, het hom lelik vererg vir Paulus. Hy sê toe vir een van sy helpers wat by Paulus gestaan het om hom op die mond te slaan. Paulus was baie kwaad daaroor. Dadelik het hy vir die hoëpriester gesê: “God sal jou hieroor straf, jou skynheilige! Jy is veronderstel om my volgens die voorskrif van die wet te verhoor. Maar nou tree jy in stryd daarmee op deur te beveel dat ek geslaan word nog voordat ek skuldig bevind is.” Een van die helpers wat by Paulus gestaan het, het geskok vir hom gevra: “Praat jy so met die hoëpriester?” “My broers, ek het nie besef dat ek met die hoëpriester praat nie,” het Paulus geantwoord. “As ek dit geweet het, sou ek nie hierdie dinge gesê het nie. Ek weet immers dat daar in die Bybel geskryf staan: ‘’n Mens mag nie sleg praat van ’n leier van die volk nie.’” Paulus het geweet dat ’n deel van die Joodse Raad Fariseërs was en ’n ander deel Sadduseërs. Hy sê toe vir hulle: “Vriende, weet julle, ek self is ook ’n Fariseër. Ek kom uit ’n lang tradisie van Fariseërs. Dit is juis as gevolg van my geloof as Fariseër dat die dooies eendag weer sal opstaan dat ek nou deur u verhoor word.” Skaars het Paulus hierdie woorde gesê of die Fariseërs en die Sadduseërs wat op die Joodse Raad sitting gehad het, het met mekaar begin stry. Die Sadduseërs het nie aan die opstanding van die dooies geglo nie; ook nie aan die bestaan van engele of geeste nie. Die Fariseërs het wel aan hulle bestaan geglo. Die vergadering het in chaos ontaard. Te midde van hierdie deurmekaarspul het ’n paar Fariseërs opgestaan en uitgeroep: “Hierdie man is onskuldig. Ons vind niks verkeerds met wat hy sê nie. Dit was definitief ’n engel wat daar by Damaskus met hom gepraat het. Of dalk ’n gees van een van ons voorvaders.” Hierdie woorde het die humeure net verder laat opvlam. Die lede van die Joodse Raad het naderhand so met mekaar gestry dat die Romeinse bevelvoerder vir Paulus se lewe gevrees het. Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy soldate beveel om hom tussen die woedende raadslede te gaan uithaal en hom terug te vat na die Romeinse kaserne toe. Daardie nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie moedeloos word nie. Jy was ’n goeie getuie vir My hier in Jerusalem. Jy sal dit ook nog in Rome doen.” Die volgende oggend het ’n sekere groepie Jode besluit om Paulus dood te maak. So vasbeslote was hulle om dit te doen dat hulle ’n belofte voor God afgelê het dat hulle niks sou eet of drink voordat Paulus dood was nie. Meer as 40 mans het hierdie belofte gemaak. Daarna het hulle na die godsdienstige leiers van die Jode toe gegaan en vir hulle gesê: “Ons het ’n plegtige belofte voor God afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. Ons plan is: u as Joodse Raad moet die bevelvoerder van die Romeine amptelik versoek om Paulus weer voor u te laat verskyn. Sê vir hom u wil Paulus se saak verder ondersoek. Los die res vir ons. Ons sal sorg dat die man dood is voordat hy ’n voet naby u raadsaal sit.” Paulus se suster se seun het van die komplot teen hom te hore gekom. Hy het dadelik na die Romeinse kaserne gegaan en Paulus daarvan vertel. Paulus het toe een van die kapteins nader geroep en vir hom gesê: “U moet hierdie jongman asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.” Dadelik het die kaptein Paulus se susterskind na die Romeinse bevelvoerder geneem en gesê: “Daardie gevangene, Paulus, het my gevra om hierdie man na u toe te bring. Hy het iets op sy hart waarvan u moet weet.” Die bevelvoerder het die jongman eenkant toe geneem en hom gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil sê?” “Die Jode het besluit om u te vra om Paulus môre weer na die Joodse Raad te laat kom,” het Paulus se susterskind geantwoord. “Hulle maak asof hulle sy saak nog verder wil ondersoek. U moet onder geen omstandighede toelaat dat Paulus soontoe gaan nie. Dit alles is deel van ’n set om hom dood te maak. ’n Groep van oor die 40 mans het ’n belofte afgelê dat hulle niks sal eet of drink voordat hy dood is nie. Hulle is van plan om Paulus op pad na die Joodse Raad voor te lê en dood te maak. Hulle wag net dat u toestemming gee dat hy soontoe kan gaan.” Na hierdie woorde het die bevelvoerder die jongman huis toe laat gaan. “O ja, moet onder geen omstandighede vir iemand anders hiervan vertel nie,” het hy bygevoeg. Die bevelvoerder het twee van sy kapteins nader geroep: “Julle moet dadelik 200 soldate gereed kry om na Sesarea te gaan. Sorg ook dat 70 ruiters en 200 lig gewapende soldate teen nege-uur vanaand reg is om hulle te vergesel. Maak ook seker dat daar ’n paar esels is om Paulus en al sy bagasie te vervoer. Ons moet sorg dat hy veilig by goewerneur Feliks aankom.” Die bevelvoerder het ook ’n brief aan Feliks geskryf wat soos volg gelui het: Van: Claudius Lisias Aan: Feliks, ons hooggeagte goewerneur Ek groet u! Ek het hierdie man onlangs uit die hande van die Jode gered. Dit was nadat hulle hom daar in die tempel gevang het en op die punt was om hom dood te maak. Toe ek hoor dat hy ’n Romeinse burger is, het ek soldate gestuur om hom te red. Ek wou vasstel wat hy verkeerd gedoen het. Daarom het ek hom na hulle hoogste godsdienstige raad toe geneem. Toe kom ek agter dat dit oor die een of ander godsdienstige verskil tussen hom en hulle gaan. Hulle het hom beskuldig dat hy hulle wet oortree. Hy het dus nie iets gedoen wat tronkstraf of die doodstraf verdien nie. Kort daarna is ek in kennis gestel dat die Jode agteraf besluit het om hom dood te maak. Daarom het ek hom ter wille van sy eie veiligheid so gou moontlik na u toe gestuur. Ek het ook sy aanklaers laat weet dat hy nou in u sorg is. Hulle moet hulle saak teen hom voor u kom stel. Groete. Die soldate het Paulus daardie selfde nag nog na Antipatris toe geneem. Die volgende dag het hulle na hulle kaserne in Jerusalem teruggekeer, terwyl die ruiters hom verder vergesel het. Toe die ruiters in Sesarea aankom, het hulle hulle bevelvoerder se brief aan die goewerneur oorhandig. Hulle het Paulus ook aan sy sorg toevertrou. Nadat Feliks die brief deurgelees het, het hy Paulus gevra uit watter Romeinse provinsie hy kom. “Silisië,” het Paulus geantwoord. Daarop het Feliks vir Paulus gesê: “Ek sal jou saak verhoor sodra jou aanklaers hier opdaag.” Hy het sy soldate beveel om Paulus intussen in Herodes se paleis op te sluit.