Handelinge 16:1-15

Handelinge 16:1-15 DB

Paulus het ook weer ’n draai in Derbe en Listra gaan maak. Daar het hy vir Timoteus raakgeloop, ’n Christen met ’n Joodse ma en ’n Griekse pa. Sy ma het saam met hom die Here gedien. Die gelowiges in Listra en Ikonium kon nie uitgepraat raak oor Timoteus se liefde vir die Here nie. Paulus het toe besluit om Timoteus saam met hom te vat om sendingwerk te gaan doen. Maar hy het Timoteus eers besny om seker te maak dat die Jode hom nie van die staanspoor af sou verwerp nie. Baie van hulle het geweet dat hy ’n Griekse pa het. Daarom sou hulle hom nooit toelaat om met hulle in hulle sinagoges oor Jesus te praat as hy nie besny was nie. Daarna het Paulus en Timoteus by ’n paar gemeentes gaan besoek aflê. Oral het hulle vir die gelowiges vertel van die besluite wat die kerkleiers in Jerusalem geneem het oor daardie voorskrifte wat al die gelowiges moes gehoorsaam. Paulus het hierdie besoeke gebruik om die Christene se geloof te versterk. Baie mense het ook tot bekering gekom sodat die kerk oral uitgebrei het. Paulus-hulle het deur die landstreke van Frigië en Galasië gereis. Hulle wou van daar af in ’n westelike rigting na die Romeinse provinsie Asië toe gaan om daar te gaan preek. Die Heilige Gees wou hulle egter nie toelaat om dit te doen nie. Hulle het toe van roete verander en na Misië toe gegaan. Van daar af wou hulle dan na Bitinië reis. Maar weer ’n keer het Jesus hulle deur sy Gees gekeer om soontoe te gaan. Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis. In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!” Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel. Ons het die eerste skip geneem wat na Samotrake gevaar het. Van daar af het ons die volgende dag tot in Neapolis gereis. Toe ons daar aankom, het ons dadelik koers gekies die binneland in. Ons bestemming was die stad Filippi, ’n belangrike Romeinse kolonie in Masedonië. Ons sou ’n paar dae daar oorbly. Op die sabbatdag het ons na ’n rivier net buite die stad gestap. Ons het gehoor dat mense gewoonlik daar bymekaargekom het om te bid. Ons het daar gaan sit en begin gesels met ’n paar van die vroue wat daar was. Een van die vroue, Lidia, wat uit die stad Tiatira afkomstig was en wat duur pers materiaal verkoop het, het vroeër al die Joodse geloof aangeneem. Sy het aandagtig gesit en luister na wat Paulus gesê het. Die Here het Lidia aangeraak sodat sy die goeie nuus oor Jesus gelowig aanvaar het. Daarna is sy gedoop, en ook almal wat in haar huis gebly het. Sy het ons toe uitgenooi om by haar te kom oorbly. “As julle regtig oortuig is dat ek nou ook in die Here glo, moet julle eenvoudig in my huis kom oorbly,” het sy gesê. Lidia het ons toe met hierdie woorde oorgehaal om by haar te kom bly.