MARKUS 3:13-35

MARKUS 3:13-35 AFR53

EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee; en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder — en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes, en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het. EN hulle het in 'n huis gegaan, en 'n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie. Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie; en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe. Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel — omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees. SY broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep. En 'n skare het rondom Hom gesit Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite. En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.