EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan 'n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak. En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg. EN hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa.
Lees MARKUS 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 1:14-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's