LUKAS 15:11-19

LUKAS 15:11-19 AFR53

HY het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.