GALÁSIËRS 5:2-12

GALÁSIËRS 5:2-12 AFR53

Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk. Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. 'n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees. Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig! Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!