Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Maskiel .
O God, met ons eie ore
het ons dit gehoor,
ons voorouers het ons vertel
van die dade wat U verrig het
in hulle tyd, in die ou tyd:
U, U het met u eie hand
nasies verdryf,
maar húlle het U geplant,
U het volke geteister,
maar húlle het U laat uitbrei.
Ja, ons voorouers het nie
met hulle swaard 'n land
in besit geneem nie;
hulle arm het nie aan hulle
die oorwinning gegee nie,
maar u regterhand en u arm
en die lig van u teenwoordigheid,
omdat U hulle goedgesind was.
Ú is my koning, my God.
Gebied dan die verlossing van Jakob!
Met U deurboor ons ons teenstanders;
in u Naam trap ons hulle plat
wat teen ons opstaan.
Want dit is nie my boog
waarop ek vertrou nie,
en dit is nie my swaard
wat my verlos nie.
Ja, U verlos ons
van ons teenstanders,
en U laat hulle wat ons haat,
beskaamd staan.
In God roem ons die hele dag lank,
u Naam prys ons vir altyd. •Sela
En tog het U ons verstoot en verneder;
U trek nie meer saam met ons leërs
uit nie.
U laat ons terugdeins
vir 'n teenstander,
en ons haters plunder vir hulleself.
U lewer ons uit soos slagvee;
onder die nasies het U ons verstrooi.
U verkoop u volk goedkoop;
U maak geen wins
uit die verkoopprys nie.
U maak ons 'n bespotting
vir ons bure,
die spot en hoon van hulle
rondom ons.
U maak van ons 'n spotnaam
onder die nasies,
U laat die volke hulle koppe
skud oor ons.
Die hele dag lank
verduur ek vernedering
en is my gesig rooi van skaamte
oor die luide uittarting
en verguising,
oor die teenwoordigheid
van vyande en wraakgieriges.
Dit alles het met ons gebeur,
maar ons het U nie vergeet nie;
ons het nie troubreuk gepleeg
teen u verbond nie.
Ons harte het nie teruggedeins nie,
en ons treë het nie van u pad
afgewyk nie.
Maar U het ons verpletter
deur van ons 'n plek te maak
waar woestynjakkalse hou;
U het ons met digte duisternis bedek.
As ons die Naam van ons God
vergeet het,
ons hande na 'n vreemde god
uitgestrek het,
sou God dit nie ontdek nie?
Hy is immers die Een
wat hartsgeheime ken.
Maar ter wille van U
word ons die hele tyd vermoor,
word ons as slagvee beskou.
Word wakker!
Waarom slaap U, my Heer?
Staan op!
Moet ons nie vir altyd verstoot nie.
Waarom verberg U u gesig,
vergeet U ons ellende
en ons verdrukking?
Want ons smelt weg in die stof,
ons liggame kleef aan die grond.