Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die HERE. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die HERE voorgedra in die tyd toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. Hy het gesê:
Ek het U lief, HERE, my sterkte!
Die HERE is my rotsvesting,
my bergskuiling, my bevryder.
My God is my rots by wie ek skuil,
my skild en die horing van my
redding, my toevlugsoord.
Die Een wat geloof moet word –
roep ek uit – is die HERE!
En van my vyande word ek verlos.
Bande van die dood
het my omsluit,
strome van vernietiging
het my verskrik,
bande van die •doderyk
het my verstrengel,
vangstrikke van die dood
het my ingewag.
In my benoudheid het ek
na die HERE bly roep;
na my God het ek om hulp geroep.
In sy paleis het Hy my stem gehoor;
my hulpgeroep voor Hom
het sy ore bereik.
Toe het die aarde
geskud en gebewe;
die fondamente van die berge
het gesidder.
Dit het geskud want sy toorn
het ontbrand:
Rook het uit sy neus opgestyg,
'n verterende vuur uit sy mond;
gloeiende kole het daaruit opgevlam.
Hy het die hemel afgebuig
en neergedaal;
diepe duisternis was onder sy voete.
Hy het op 'n gerub gery,
Hy het gevlieg,
gesweef op die vlerke van die wind.
Hy het van die donker
sy beskutting gemaak;
rondom Hom was sy skuiling
swaar wolke, donker van water.
Uit die glans voor Hom
het sy wolke verbygetrek
met hael en gloeiende kole vuur.
Die HERE laat die donder
weerklink in die hemelruim;
die Allerhoogste laat sy stem hoor
met hael en gloeiende kole vuur.
Hy stuur sy pyle
en jaag hulle uiteen;
Hy werp sy weerligstrale
en bring hulle in verwarring.
Die beddings van die strome
het sigbaar geword;
die fondamente van die aarde is ontbloot
deur u dreiging, HERE,
deur die windvlaag uit u neus.
Uit die hoogte het Hy
sy hand uitgestrek,
my gegryp,
my uit die watermassa opgetrek.
Hy het my weggeruk
van my magtige vyand,
weg van my haters,
want hulle was sterker as ek.
Op die dag van my teenspoed
het hulle my ingewag,
maar die HERE was vir my 'n stut:
Hy het my uitgelei na 'n oopte;
Hy het my bevry
omdat Hy my goedgesind is.
Die HERE het aan my goed gedoen
op grond van my geregtigheid;
omdat my hande skoon is,
het Hy my vergoed.
Want ek het op die HERE se paaie gebly
en my nie skuldig gemaak
voor my God nie.
Ja, ek hou al sy wette voor oë,
en sy vaste voorskrifte –
daarvan wyk ek nie af nie.
Ek was onberispelik voor Hom,
en het my weerhou van sondeskuld.
Die HERE het my vergoed
op grond van my geregtigheid,
omdat my hande skoon is in sy oë.
Teenoor getroue volgelinge
tree U getrou op;
teenoor iemand wat onberispelik is,
tree U onberispelik op;
teenoor dié wat hulle rein hou,
bewys U Uself rein;
maar teenoor dié wat vals is,
tree U berekenend op!
Ja, dit is U wat 'n magtelose volk
verlos en trotse oë verneder;
dit is U wat my lig laat skyn, HERE.
My God verlig my donkerte.
Ja, met U hardloop ek
'n bende tegemoet,
met my God spring ek oor 'n muur.
God, sy weg is volmaak;
die woord van die HERE is gelouter.
Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
Ja, wie is God behalwe die HERE?
Wie is 'n rots buiten ons God?