Psalms 148

148
1Halleluja!
Loof die Here uit die hemel;
loof Hom in die hoogtes!
2Loof Hom, al sy engele;
loof Hom, al sy hemelse magte!
3Loof Hom, son en maan;
loof Hom, al die helder sterre!
4Loof Hom, hoogste hemele
en die water wat bo
die hemelkoepel is!
5Laat hulle die Naam van die Here loof,
want dit is Hy wat bevel gegee het –
en hulle is geskape.
6Hy het hulle gevestig
vir altyd, vir ewig.
Hy het 'n vaste orde bepaal
wat nie verbygaan nie.
7Loof die Here vanaf die aarde –
seemonsters en al die diep waters,
8vuur en hael, sneeu en newels,
stormwind wat sy bevel uitvoer;
9berge en al die heuwels,
bome wat vrugte dra
en al die seders;
10wilde diere en al die vee,
diere wat kruip
en voëls wat vlieg;
11konings van die aarde
en al die volke,
•aanvoerders en al
die regeerders van die aarde;
12jong mans en ook jongmeisies,
oumense saam met jongmense.
13Laat hulle die Naam
van die Here loof,
want sy Naam alleen is hoog verhewe;
sy luister reik oor aarde en hemel.
14Hy het sy volk sterk gemaak –
'n rede tot lof
vir al sy troue volgelinge,
die Israeliete,
die volk wat na aan Hom is.
Halleluja!

Tans Gekies:

Psalms 148: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan