Psalms 119:1-176

Psalms 119:1-176 AFR20

Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die HERE volg! Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek; wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg! U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom. Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom. Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie. Ek prys U met 'n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer. U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie. Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. U moet geprys word, HERE! Leer my u voorskrifte! Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond. Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom. Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let. In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie. Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig. HERE, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid. Laat u troue liefde my deel word, HERE, u verlossing volgens u woord, sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord. Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings. Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig. Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek. Ek sal oor u bepalings voor konings praat sonder om my te skaam. Ek vind vreugde in u bevele wat ek liefhet; ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet; ek dink na oor u voorskrifte. Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het. Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou. Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie. Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, HERE, en ek was getroos. Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat u wet verlaat. Maar u voorskrifte was vir my liedere in 'n plek waar ek 'n vreemdeling was. Ek het u Naam in die nag onthou, HERE, en ek het u wet nagekom. Dit het deel geword van my – dat ek by u opdragte hou. U, HERE, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom. Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte. Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie. Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie. In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings. Ek is 'n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom. HERE, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte. U het goed gedoen aan u dienskneg, HERE, volgens u woord. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele. Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na. U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte. Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte. Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet. Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer. Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer. Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek. Ek weet, HERE, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het. Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg. Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde. Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte. Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken. Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie. My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?” Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie. Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers? Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie. Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my! Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie. Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom. Vir ewig, HERE, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim. Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; HERE, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, HERE, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe. Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die HERE om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek. U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie. Regverdig is U, HERE, en u beslissings is reg. U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe. Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, HERE, u voorskrifte wil ek onderhou!” Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!” Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek. Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink. Luister tog in u troue liefde na my stem, HERE, hou my lewend volgens u beslissing. Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet. Maar U, HERE, is naby, en al u gebooie is betroubaar. Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het. Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie. Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte. Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie. U ontferming is groot, HERE; hou my lewend volgens u beslissings. My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie. Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie. Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, HERE, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde. Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig. Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees. Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het. Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. Ek vestig my hoop op u verlossing, HERE, en ek voer u bevele uit. Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U. Laat my klaagroep voor U kom, HERE; gee my insig ooreenkomstig u woord. Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte. My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte. My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig. Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte. Ek verlang na u verlossing, HERE; u wet is my vreugde. Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help. Ek dwaal rond soos 'n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.