Spreuke 26:17-28

Spreuke 26:17-28 AFR20

Iemand wat 'n hond aan sy ore gryp, so is 'n verbyganger wat hom vererg oor 'n geskil wat hom nie aangaan nie. Soos 'n waansinnige wat brandpyle, dodelike pyle, rondskiet, so is iemand wat sy vriend bedrieg en dan sê: “Ek het maar net 'n grap gemaak.” Sonder hout gaan 'n vuur dood, en in die afwesigheid van 'n kwaadstoker raak 'n stryery stil. Gloeiende kole vir houtskool, hout vir 'n vuur, dit is 'n twissieke man by die aanblaas van 'n geskil. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye – dit gaan af na die binneste van die liggaam. Soos glasuur wat op 'n potskerf aangebring is, so is vurige lippe en 'n bose hart. Met sy lippe verbloem 'n hater hom, maar in sy binneste huisves hy bedrog. As hy sy stem innemend maak, moet jy hom nie vertrou nie; want daar is sewe afskuwelikhede in sy hart. Al word sy haat deur misleiding verberg, sy boosheid sal in die byeenkoms onthul word. Wie 'n vanggat grawe, val self daarin, en wie 'n klip rol, na hom kom dit terug. 'n Vals tong haat dié wat hy verpletter het, en 'n gladde mond bewerk 'n ramp.