Spreuke 14:29-35

Spreuke 14:29-35 AFR20

Die geduldige mens is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon. 'n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente. Hy wat 'n arme uitbuit, beledig sy Maker, maar wie hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom. Deur sy boosheid word 'n goddelose omvergewerp, maar 'n regverdige vind 'n skuilplek, selfs by sy dood. In die hart van 'n verstandige rus wysheid; selfs onder dwase is dit bekend. Geregtigheid verhoog 'n nasie, maar sonde is 'n skande vir volke. Die welwillendheid van die koning is daar vir 'n verstandige dienaar, maar sy gramskap is bedoel vir 'n skandemaker.