Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer. Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. ” Hy het toe die silwerstukke in die •tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” Hulle het toe 'n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as 'n begraafplaas vir •vreemdelinge. Daarom word daardie grond tot vandag toe Bloedgrond genoem. Toe is die uitspraak van die profeet Jeremia vervul: “Hulle het die dertig silwerstukke, die prys waarteen Hy deur die kinders van Israel gewaardeer is, geneem en dit vir die grond van die pottebakker gegee, net soos die Here my beveel het.” Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: “Is u die koning van die Jode? ” Jesus sê toe: “U sê dit.” Die hele tyd wat Hy deur die leierpriesters en familiehoofde beskuldig is, het Hy niks geantwoord nie. Daarop sê •Pilatus vir Hom: “Hoor u nie wat hulle alles teen u getuig nie?” Hy het hom egter op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die prokurator uitermate verwonderd was.
Lees Matteus 27
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Matteus 27:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's