Matteus 25:1-12

Matteus 25:1-12 AFR20

“Dan sal die •koninkryk van die hemele wees soos tien jongmeisies wat hulle lampe geneem het om die bruidegom tegemoet te gaan. Vyf van hulle was dwaas en vyf was verstandig. Die dwases het hulle lampe gevat, maar nie olyfolie met hulle saamgeneem nie; die verstandiges het egter, saam met hulle lampe, ook olyfolie in houers geneem. En omdat die bruidegom getalm het, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. In die middel van die nag was daar 'n geroep, ‘Kyk, hier is die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe het al daardie jongmeisies opgestaan en hulle lampe gereedgemaak. Die dwases het vir die verstandiges gesê, ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het egter geantwoord, ‘Dalk sal daar nie genoeg wees vir ons én vir julle nie. Gaan eerder na die verkopers en koop julle eie.’ Terwyl hulle die olie gaan koop het, het die bruidegom opgedaag, en dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die •bruilofsfees, en die deur is gesluit. Later kom die ander jongmeisies toe ook daar aan en roep, ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar hy antwoord, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.’