Matteus 15:1-31

Matteus 15:1-31 AFR20

Toe kom daar •Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem by Jesus aan en sê: “Hoekom oortree u dissipels die tradisie van die voorouers? Want hulle was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie. ” Hy het hulle egter geantwoord: “Hoekom oortree ook julle die gebod van God met julle tradisie? God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ Maar julle sê, ‘Wie vir sy vader of moeder sê, Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, is 'n offergawe, hoef sy vader hoegenaamd nie te eer nie.’ So het julle deur julle tradisie die woord van God kragteloos gemaak. Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer, “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ ” Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: Dit is nie wat by die mond ingaan wat 'n mens •onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak 'n mens onrein. ” Toe die dissipels nader kom, sê hulle vir Hom: “Weet U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle dié uitspraak hoor?” Hy het egter geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal met wortel en al uitgetrek word. Los hulle – hulle is blinde leiers van blindes; en as 'n blinde 'n blinde lei, sal albei in die sloot val. ” •Petrus het Hom gevra: “Verduidelik hierdie gelykenis vir ons.” Hy het gesê: “Is ook julle nog steeds sonder begrip? Verstaan julle nie dat alles wat by die mond ingaan, in die maag beland en in die privaat uitgewerp word nie? Maar wat by die mond uitgaan, kom uit die hart, en daardie dinge maak die mens onrein. Uit die hart kom daar immers bose gedagtes, moord, owerspel, onsedelikheid, diefstal, valse getuienis en lastering. Dit is die dinge wat 'n mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.” Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees. Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 'n Groot skare het na Hom gekom met verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander saam met hulle. Hulle het dié mense by sy voete neergelê, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik.