Lukas 9:18-27

Lukas 9:18-27 AFR20

Op 'n keer, toe Jesus alleen gebid het, met slegs sy dissipels by Hom, het Hy hulle gevra: “Wie sê die mense is Ek?” En hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, maar ander sê Elia, en ander weer dat een van die profete van ouds opgestaan het.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus het geantwoord: “Die Christus van God.” Jesus het hulle opdrag gegee om dit aan niemand te vertel nie, “want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”