Lukas 1:57-68

Lukas 1:57-68 AFR20

Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly. Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys. Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom. Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig.