Johannes 3:1-15

Johannes 3:1-15 AFR20

Daar was 'n man uit die geledere van die •Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie. ” Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.” Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan 'n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie. Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie? Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie! As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel? En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die •Seun van die Mens. En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.”