Johannes 1:19-37

Johannes 1:19-37 AFR20

En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!” Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?” Hy antwoord toe, “Ek is ‘die stem van een wat uitroep in die woestyn: “Maak die pad van die Here reguit!” ’ – “soos die profeet Jesaja gesê het.” Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs, en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg.