Jeremia 6:10-30

Jeremia 6:10-30 AFR20

Met wie moet ek praat? Wie moet ek as getuies roep, sodat hulle kan luister? Kyk, onbesnede is hulle ore, sodat hulle nie kan ag gee nie. Kyk, die woord van die HERE het vir hulle 'n bespotting geword; hulle aanvaar dit nie. Ek is met die woede van die HERE vervul; ek is moeg daarvan om my in te hou. “Stort dit uit oor kinders op straat, en tegelyk oor die groep jongmense. Ja, mans sowel as vroue sal gevange geneem word, oues saam met bejaardes. Hulle huise sal na ander oorgaan, hulle landerye en vroue daarmee saam. Want Ek steek my hand uit teen die inwoners van die land,” is die uitspraak van die HERE. “ Ja, klein en groot maak almal onregverdige wins. Van profeet tot priester – hulle almal pleeg bedrog. Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op 'n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ Maar daar is geen vrede nie. Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Hulle skaam hulle hoegenaamd nie, ken selfs geen skaamte nie. Daarom sal hulle val onder die gesneuweldes; in die tyd wanneer Ek hulle tot verantwoording roep, sal hulle tot 'n val kom,” het die HERE gesê. So sê die HERE: “Gaan staan langs die paaie en kyk; vra na die weë uit die voortyd. Vra waar die pad na die goeie is, en volg dit! Vind so sielerus! Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie gaan nie.’ Toe het Ek wagte oor julle aangestel, ‘Gee ag op die geluid van die ramshoring!’ Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie ag gee nie.’ Daarom, luister, nasies! Neem kennis, volksvergadering, van wat met hulle gaan gebeur! Luister, land! Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie volk – die vrug van hulle planne. Want op my woorde het hulle nie ag geslaan nie, en my wet, dit het hulle verwerp. Waarom nog vir My wierook uit Skeba laat kom, of kosbare kalmoes uit 'n ver land? Julle •brandoffers is nie aanvaarbaar nie, en julle •maaltydoffers geval My nie. ” Daarom, so sê die HERE: “Kyk, Ek gaan voor hierdie volk struikelblokke lê waaroor hulle sal val – ouers en kinders saam; bure en vriende sal ten gronde gaan.” So sê die HERE: “Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde; 'n groot nasie is wakker gemaak by die uithoeke van die aarde. Boog en kromswaard hou hulle gereed; harteloos is hulle, en genadeloos. Hulle klink soos die see wat dreun, op perde ry hulle; hulle is manne wat in 'n gevegslinie opgestel is teen jou, dogter van Sion.” Ons het die gerug oor hulle gehoor; ons moed het ons begewe. Benoudheid het ons beetgepak, angs soos wanneer 'n vrou geboorte gee. Moenie na die veld uitgaan nie! Op pad moet julle nie gaan nie! Ja, die vyand het 'n swaard; daar is verskrikking aan alle kante! Dogter van my volk, omgord jou met rouklere en rol in die as! Rou soos oor 'n enigste kind – 'n bittere roubeklag! Want onverwags kom die verwoester oor ons. “As toetser van silwer het Ek jou by my volk aangestel, as 'n versterkte stad, sodat jy hulle optrede kan ken en toets. Hulle is almal rebels, onversetlik – koper en yster! Hulle gaan rond as kwaadstokers. Hulle almal is ontaard. Die blaasbalk blaas; uit die vuur kom lood ongeskonde. Tevergeefs word daar aanhoudend gesmelt; die slegtes word nie afgeskei nie. ‘Verworpe silwer’ word hulle genoem, want die HERE het hulle verwerp.”