Jesaja 11:1-11

Jesaja 11:1-11 AFR20

Maar 'n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die gees van die HERE sal op hom rus – die gees van wysheid en insig, die gees van raad en sterkte, die gees van kennis en ontsag vir die HERE. Hy sal genot put uit ontsag vir die HERE. Hy sal nie 'n beslissing vel volgens wat sy oë sien nie, en nie teregwys volgens wat sy ore hoor nie. Hy sal regverdig beslis oor die armes, en die magteloses van die land billik teregwys. Hy sal die land slaan met die stok van sy mond, en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. Geregtigheid sal 'n gordel om sy middel wees, en betroubaarheid 'n gordel om sy heupe. 'n Wolf sal by 'n lam vertoef, en 'n luiperd sal by 'n boklam gaan lê, 'n kalf, 'n jong leeu en vetgemaakte vee bymekaar – 'n klein seuntjie sal hulle lei. 'n Koei en 'n beerwyfie sal saam wei, en hulle kleintjies sal saam gaan lê. 'n Leeu sal soos 'n bees gras eet. 'n Suigeling sal speel by die gat van 'n horingslang, en 'n kleuter sal sy hand uitsteek na die nes van 'n kobra. Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie; want die land sal vol wees van die kennis van die HERE, soos water die see bedek. Op daardie dag sal die wortel van Isai as banier vir die volke bly staan – die nasies sal daarna vra, en sy rusplek sal luisterryk wees. Op daardie dag sal my Heer weer, vir 'n tweede keer, sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk te koop – hulle wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die eilande van die see.