Genesis 45:1-8

Genesis 45:1-8 AFR20

Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland.

Video vir Genesis 45:1-8