Genesis 45:1-15

Genesis 45:1-15 AFR20

Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor. Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nader gegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op 'n groot uitredding. Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as 'n vader vir die farao aangestel, as 'n heer vir sy hele huishouding en 'n regeerder oor die hele Egipteland. Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’ Kyk, julle sien nou self, en my broer Benjamin sien dit ook, dat dit my eie mond is wat met julle praat. Vertel vir my pa van al die aansien wat ek in Egipte geniet, en van alles wat julle gesien het. Maak net gou en bring my pa af hierheen.” Toe val hy sy broer Benjamin om die nek en huil, en Benjamin het op sy skouer gehuil. Hy het al sy broers gesoen en by hulle gehuil. Daarna het sy broers met hom gepraat.

Video for Genesis 45:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 45:1-15