Daniël 9:20-24

Daniël 9:20-24 AFR20

Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die HERE, my God, te lê, ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. Aan die begin van jou smeekgebed het daar 'n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar, want jy is baie geliefd. Verstaan die woord en kry insig in die openbaring: “ Sewentig weke is bepaal oor jou volk en jou heilige stad: om die daad van opstand tot 'n einde te bring, om sondes die volle maat te laat bereik, om sondeskuld te versoen, en ewige geregtigheid te bring, om visioen en profeet te bekragtig, en om wat besonder heilig is, te salf.