Handelinge 2:1-13

Handelinge 2:1-13 AFR20

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.”