Wat U sê, is wonderlik,
daarom doen ek wat U sê.
Wanneer mense verstaan wat U gesê het,
dan is dit vir hulle soos 'n lig,
dit wys vir jongmense wat hulle moet doen.
Ek is honger vir u gebooie,
so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak
omdat hy honger is.
U moet luister en genadig wees vir my,
soos U altyd doen vir die mense
wat lief is vir u Naam.
U moet my help, sodat ek kan aanhou
om te lewe soos U sê.
U moenie dat sonde oor my regeer nie,
nie een sonde nie.
U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie,
dan sal ek kan doen wat U beveel.
U moet naby my wees,
naby my, u dienaar,
en U moet vir my leer wat u wette sê.
My trane loop soos strome water
omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie.
Here, U doen reg, U besluit reg.
Alles wat U gesê het, is reg,
mense kan dit altyd glo.
Ek word baie kwaad wanneer my vyande
vergeet wat U gesê het.
Die dinge wat U sê, is baie waar.
Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê.
Ek is klein en onbelangrik
maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie.
U doen reg en U sal altyd reg doen,
die dinge wat U vir ons geleer het,
bly dieselfde.
Toe ek swaargekry het
en toe dit sleg gegaan het met my,
was dit vir my lekker om u gebooie te hou.
Wat U sê, is altyd reg,
U moet my help om dit te verstaan,
sodat ek kan aanhou lewe.