Die volgende spreuke is ook Salomo-spreuke. Koning Hiskia van Juda se manne het hierdie spreuke bymekaargemaak.
Mense respekteer en dien vir God,
maar hulle weet nie alles van Hom nie.
Mense respekteer 'n koning
wanneer die koning probeer om alles te weet.
Niemand weet hoe hoog die hemel is
en hoe diep die aarde is nie,
en niemand weet wat die koning alles dink nie.
Wanneer jy die vuil stukkies en die skuim
uit gesmelte silwer haal,
dan kan 'n silwersmid iets maak
van die silwer.
Wanneer jy die mense wat verkeerd doen,
wegvat van die koning,
dan kan die koning regverdig regeer.
Jy moenie probeer wys jy is belangrik
wanneer jy by die koning is nie,
jy moenie gaan staan
waar die belangrike mense staan nie.
Want dit is beter as iemand vir jou sê:
“Kom op hiernatoe,”
beter as dat hy vir jou sê jy moet jou plek
vir 'n belangrike persoon gee.
Wanneer jy by jou naaste iets gesien het
wat verkeerd is,
dan moet jy dit nie dadelik
in die hof gaan vertel nie.
Wat sal jy doen wanneer jou naaste bewys
dat jy verkeerd is?
Wanneer jy jou naaste wil beskuldig,
dan moet jy nie vertel wat iemand anders
vir jou gesê het toe julle alleen was nie.
As jy dit doen, en jou naaste hoor dit,
dan kan hy miskien sê jy praat nie die waarheid nie,
en almal sal onthou wat jy gedoen het.
Wanneer iemand die regte ding sê
op die regte tyd,
dan is dit soos goue appels
wat iemand op silwer vasgesit het.
Wanneer iemand wat wysheid het,
vir jou sê hoe jy moet lewe,
dan is dit soos 'n goue ring,
soos juwele van goud.
Wanneer iemand 'n slaaf gestuur het
en die slaaf het die boodskap reg gebring,
dan is dit soos wanneer dit warm was
en sneeu het dit lekker koel gemaak.
Dit laat die slaaf se eienaar goed voel.
Wanneer iemand spog oor 'n present
wat hy nie gee nie,
dan is dit soos wanneer daar wolke is en die wind waai,
maar daar is nie reën nie.
As jy baie geduldig is,
dan kan jy met 'n regeerder praat
en hom laat besluit om iets te doen,
as jy vriendelik praat, dan sal hy miskien begin dink
dat hy iets op 'n ander manier moet doen.
Wanneer jy heuning kry,
dan moet jy nie te veel eet nie.
As jy te veel eet, dan sal jy naar word.
Jy moenie te veel by jou naaste kuier nie.
As jy te veel by hom kom,
dan sal hy nie meer lief wees vir jou nie.
Iemand wat 'n vals getuie
teen 'n ander mens is,
is soos 'n knopkierie, 'n swaard of 'n skerp pyl.
Jy moenie dink dat 'n ontrou mens
jou sal help wanneer dit sleg gaan met jou nie.
'n Ontrou mens is soos 'n stukkende tand of 'n lam voet.
Jy moenie vra dat iemand wat wil huil,
liedjies moet sing nie.
Dit is soos wanneer jy op 'n koue dag
iemand se klere wegvat,
of soos wanneer jy asyn op 'n seerplek gooi.
Wanneer iemand wat vir jou haat, honger is,
dan moet jy vir hom kos gee om te eet.
Wanneer hy dors is,
dan moet jy vir hom water gee om te drink.
Dan sal jy hom skaam laat word
omdat hy jou haat,
en die Here sal jou beloon.
Wanneer die noordewind waai, dan gaan dit reën.
Wanneer iemand skinder, dan word mense kwaad.