Lukas 8:1-18

Lukas 8:1-18 ABA

Jesus het deur baie stede gegaan, van die een stad na die ander stad. Hy het oral die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die twaalf dissipels het saam met Hom gegaan. Daar was ook vroue by hulle. Jesus het hierdie vroue voorheen gesond gemaak toe Hy bose geeste uit hulle laat gaan het. Een van die vroue was Maria Magdalena. Sewe duiwels het uit haar uitgegaan. 'n Ander vrou was Johanna, die vrou van Gusa. Gusa was die hoof van die mense wat in koning Herodes se paleis gewerk het. Susanna en nog baie ander vroue was ook by Jesus en sy dissipels. Hierdie vroue het hulle eie geld gebruik om vir Jesus en sy dissipels te sorg. Baie mense het na Jesus toe gekom uit al die stede wat daar naby was. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “'n Man was besig om saad te saai en terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Daar het die mense op die saad getrap en die voëls het dit opgepik. Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Toe die saad begin groei, het dit gou droog geword omdat daar nie genoeg water in daardie grond was nie. Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het saam met die saad gegroei, en die dorings het die plantjies heeltemal toegegroei. Party van die saad het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het mooi gegroei, en daar was baie koring, 100 maal meer as wat die man gesaai het.” Toe Jesus die gelykenis klaar vertel het, het Hy gesê: “As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê.” Jesus se dissipels vra toe vir Hom wat die gelykenis beteken. Jesus het gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy Koning is en dat Hy regeer. Maar die ander mense verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle gelykenisse. “ Daarom kyk daardie mense, maar hulle sien nie, en hulle hoor, maar hulle verstaan nie.” Jesus het toe vir die dissipels gesê wat die gelykenis beteken. Hy het gesê: “Die saad is die boodskap van God. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap van God hoor, maar dan kom die duiwel en hy vat die boodskap weg uit hulle harte. Dan kan hulle nie glo nie, en dan red God hulle nie. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en glo en bly is daaroor. Maar daar is nie 'n diep wortel nie, hulle hou nie aan om te glo nie. Wanneer hulle swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor, maar hulle is bekommerd oor baie dinge en hulle wil net ryk word en lekker lewe. Dan is hulle soos plante met vrugte wat nooit ryp word nie. Maar wanneer die saad in vrugbare grond val, is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en hulle glo dit met hulle hele hart. Hulle onthou die boodskap en hulle is soos plante wat altyd goeie vrugte dra.” Jesus het ook gesê: “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan onder 'n emmer of steek dit onder die bed weg nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander. Dan kan almal in die kamer die lig sien. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Julle moet goed luister na die boodskap. Want as iemand verstaan en hy vertel vir almal dat God Koning is, dan sal God hom nog beter laat verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie, ook as hy dink dat hy verstaan.”