Josua 18:1-10

Josua 18:1-10 ABA

Die hele volksvergadering van die Israeliete het in die stad Silo bymekaargekom en hulle het die tent daar opgeslaan, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het die hele land klaar oorwin, maar sewe van die stamme van die Israeliete het nog nie hulle eie grond gekry nie. Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank wil julle nog wag voordat julle die land gaan vat wat die Here, die God van ons voorvaders, vir julle gegee het? Julle moet drie persone van elke stam bring sodat ek hulle kan stuur om deur die land te gaan en om elke deel van die land op te skryf en dit vir my te bring. Julle moet die land deel in sewe dele. Die stam Juda moet op hulle grond in die suide bly en die nageslag van Josef moet op hulle grond in die noorde bly. Julle moet opskryf waar elkeen van die sewe dele is en julle moet dit vir my bring, dan sal ek hier lootjies trek voor ons God die Here. Die Levi-stam kry nie 'n deel van die land saam met julle nie, want hulle deel is om priesters van die Here te wees. En die stamme Gad en Ruben en die halwe Manasse-stam het klaar hulle grond gekry oos van die Jordaan-rivier. Moses, die dienaar van die Here, het daardie grond vir hulle gegee.” Die manne wat moes gaan opskryf waar die verskillende dele van die land is, het dadelik gegaan. Josua het vir hulle gesê: “Julle moet deur die land gaan en julle moet die plekke opskryf en dit vir my bring. Dan sal ek hier voor die Here in die stad Silo vir julle die lootjies trek.” Die manne het deur die land gegaan en hulle het die stede in die sewe dele opgeskryf in 'n boek, en daarna het hulle teruggekom na Josua toe in die kamp by die stad Silo. Josua het toe in die tempel by Silo die lootjies getrek en hy het die land verdeel tussen die stamme van die Israeliete.