Die Jode het priesters en Leviete uit Jerusalem na Johannes toe gestuur. Hulle het vir hom gevra: “Wie is jy?” Johannes het toe vir hulle vertel. Hy het nie stilgebly daaroor nie, hy het reguit met hulle gepraat en gesê: “Ek is nie die Christus nie.” Toe vra hulle vir Johannes: “Wie is jy? Is jy Elia?” En hy sê: “Nee, ek is nie Elia nie.” Toe vra hulle: “Is jy die profeet?” Hy het geantwoord: “Nee.” Hulle het vir hom gesê: “Wie is jy? Sê vir ons, want ons moet dit gaan vertel vir die mense wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?” Johannes het gesê: Ek is die man wat in die woestyn skree en sê: Maak die pad gereed vir die Here! Dit is wat die profeet Jesaja gesê het. Die Jode het die mense na Johannes toe gestuur. Party van die mense was Fariseërs. Die Fariseërs het vir Johannes gesê: “Jy sê jy is nie die Christus of Elia of die profeet nie. Hoekom doop jy die mense?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water. Maar daar is Iemand by julle, julle ken Hom nie. Hy is die Een wat sal kom nadat ek gekom het. Hy is baie belangrik, ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.” Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop. Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal 'n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.” Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos 'n duif uit die hemel en bly op Hom. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’ Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!” Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg.
Lees Johannes 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Johannes 1:19-37
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's