Jesaja 50:4-8

Jesaja 50:4-8 ABA

Die dienaar van die Here sê: “Die Here het vir my geleer om goed te praat. Ek weet wat om te sê sodat mense wat moeg is, weer sterk kan voel. Die Here laat my elke oggend wakker word en Hy maak my ore oop sodat ek goed kan luister. Die Here het vir my geleer om te luister, en ek was gehoorsaam aan Hom, ek was nie opstandig nie. Die mense het my op my rug geslaan en hulle het my baard uitgetrek, maar ek het stil gestaan. Hulle het probeer om my te verneder en hulle het in my gesig gespoeg, maar ek het nie my gesig weggedraai nie. Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie. Die Here sal wys dat ek reg is en dat Hy naby my is. Wie wil my hof toe vat? Kom ons gaan saam daarnatoe. Wie wil my beskuldig? Hy moet kom en dit doen.