Genesis 6:14-22

Genesis 6:14-22 ABA

Jy moet 'n ark maak van hout. Jy moet kamers in die ark maak en jy moet teer binne en buite aan die hout verf. Die teer sal die hout dig toemaak sodat die water nie kan inkom nie. “Dit is hoe groot jy die ark moet maak: Die ark moet 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog wees. Jy moet 'n deksel bo-op die ark maak en dit moet een el hoog wees. Jy moet ook 'n deur aan die kant van die ark insit en daar moet drie verdiepings wees: onder, middel en bo. “Ek sal nou 'n groot watervloed oor die aarde bring, Ek sal al die mense en diere op die aarde doodmaak. Alles wat op die aarde lewe, sal doodgaan. “Maar met jóú maak Ek 'n verbond. “Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. Jy moet ook 'n mannetjie en 'n wyfie van elke soort dier saam met jou in die ark neem, sodat hulle saam met jou kan aanhou lewe. Jy moet twee van elke soort dier saam met jou neem. Hulle sal na jou toe kom en hulle moet saam met jou aanhou lewe. Jy moet ook genoeg kos vir julle en vir die diere bymekaarmaak en saamneem om te eet.” Noag het alles gedoen presies soos God gesê het.

Video for Genesis 6:14-22

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 6:14-22