Genesis 49:1-28

Genesis 49:1-28 ABA

Jakob het sy seuns geroep en gesê: “Kom hier na my toe sodat ek vir julle kan vertel wat later met julle nageslag sal gebeur. Kom hier en luister, seuns van Jakob. Kom luister na julle pa Jakob. “Ruben, jy was my eerste kind. Jy is gebore toe ek jonk en sterk was, jy is my beste en belangrikste seun. Maar jy sal nie die belangrikste bly nie, want jy het 'n verkeerde ding gedoen. Jy was soos water wat oor die walle stroom. Jy het seks gehad met jou pa se vrou, jy het my bed onrein gemaak. “Simeon en Levi is broers wat dieselfde is. Hulle is lief om te baklei. Hulle kom bymekaar en maak planne, maar ek wil nie daar saam met hulle wees nie, want hulle het mense doodgemaak toe hulle kwaad was. Hulle het wrede dinge gedoen aan diere en hulle het die diere se hakskene afgesny omdat hulle lus was om dit te doen. Ek vervloek hulle omdat hulle so baie kwaad geword het. Hulle sal nie bymekaar kan bly nie, hulle sal woon tussen die ander mense, oral in die land Israel. “Juda, jou broers sal jou prys. Jy sal jou vyande oorwin en jy sal regeer oor jou broers. My seun Juda, jy is soos 'n jong leeu wat opstaan nadat hy 'n bok gevang het. Jy gaan lê soos 'n leeu wat gaan slaap, en almal is bang om jou te pla. Daar sal altyd 'n koning in jou nageslag wees. Hy sal regeer totdat Silo kom. Baie volke sal gehoorsaam wees aan hom. Hy sal die beste wingerdstokke hê en hy sal sy donkie daaraan vasmaak. Hy sal so baie wyn hê dat hy sy klere daarin kan was. Sy oë sal meer blink as wyn, sy tande sal witter wees as melk. “Sebulon sal naby die see woon, by die strand waar die bote is. Hy sal grond hê tot by die stad Sidon. “Issaskar is soos 'n sterk donkie wat tussen die saalsakke lê. Hy sal 'n goeie rusplek en 'n mooi land sien. Hy sal tevrede wees om hard te werk daarvoor, ja, hy sal soos 'n slaaf werk. “My seun Dan sal seker maak dat mense reg doen aan sy volk, want hulle is ook een van die stamme van Israel. Dan is soos 'n slang langs die pad. Hy is soos 'n horingslang wat die perd se hakskeen byt, sodat die man wat op die perd ry, agteroor val. “Here, Ek wag dat U my help. “'n Klomp rowers sal vir Gad aanval, maar hy sal hulle wegjaag, hy sal van agter kom en hy sal hulle aanval. “Aser sal goeie kos eet. Hy sal kos eet wat konings altyd eet. “Naftali is soos 'n takbok wat vry rondloop. Hy sal 'n mooi nageslag hê. “Josef is soos 'n jong vrugteboom by 'n fontein. Sy takke groei oor die muur. Baie mense sal hom aanval en hulle sal hom met pyl en boog skiet. Hulle sal hom laat swaarkry, maar hy sal hulle oorwin. Sy boog en sy arms is sterk, want die sterk God van Jakob help hom. Die God wat die Rots van Israel is, is sy Herder. Josef, die God van jou pa sal jou help, die Almagtige God sal jou seën. Hy sal jou seën met reën uit die hemel en met water uit die grond. Hy sal die ma's seën sodat hulle baie kinders kan kry en melk sal hê vir die kinders. My seun, ek seën jou meer as my ander kinders. Die seën sal aanhou so lank soos die berge en heuwels daar is. Met Josef sal dit goed gaan, want hy sal die leier van sy broers wees. “Benjamin is soos 'n wolf wat ander diere doodmaak. In die oggend en in die aand eet hy die diere wat hy gevang het en hy gee dit vir sy kleintjies.” Dit is die twaalf stamme van Israel, en dit is wat hulle pa vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën, en hy het vir elke stam sy eie seën gegee.

Video vir Genesis 49:1-28