Deuteronomium 14:22-26

Deuteronomium 14:22-26 ABA

“Julle moet elke jaar een tiende van alles wat julle geplant het en wat julle uit die grond kry, apart hou. Dan moet julle dit eet op die plek wat julle God die Here sal kies om self daar te woon, daar waar Hy is. Julle moet die tiende van julle koring en julle wyn en julle olyf-olie daar eet, en ook die vleis van die eerste kalwers en lammers, sodat julle kan leer om julle God die Here altyd te eer. Maar miskien is daardie plek te ver van julle, die plek wat julle God die Here sal kies om daar te woon, en miskien kan julle nie die tiendes daarnatoe dra nie, die tiendes van die dinge waarmee julle God die Here julle geseën het. Dan mag julle die tiendes verkoop en die geld saamneem na die plek wat julle God die Here sal kies. Daar mag julle dan alles koop wat julle wil hê: beeste, skape, bokke, wyn, bier, enige iets wat julle wil hê. En dan moet julle eet en feesvier daar waar julle God die Here dit kan sien, julle en julle huisgesinne.