PSALMS 37:1-40

PSALMS 37:1-40 NLV

Moenie jou vererg oor boosdoeners nie. Moenie die kwaaddoeners beny nie. Want soos gras verlep hulle gou. Soos plante verdroog hulle vinnig. Vertrou op die HERE en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veiligheid. Wees bly in die HERE, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die HERE. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson. Wees stil in die HERE, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan liewer jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel. Want die bose mense sal vernietig word, maar dié wat op die HERE vertrou, sal die land besit. Binnekort sal die boosdoeners nie meer daar wees nie; al soek jy na hulle, sal jy hulle nie kry nie. Maar sagmoediges sal die land besit, hulle sal oorvloedige vrede geniet. Die goddelose sweer saam teen die regverdiges en kners op die tande vir hulle. Maar die Here lag vir hom, want Hy sien sy dag van oordeel kom al nader. Die goddelose trek die swaard en span die boog om die armes en behoeftiges tot ’n val te bring, om hulle wat reg doen, dood te maak. Maar hulle swaard sal hulle eie hart deurboor en hulle boog sal stukkend gebreek word. Dit is beter om vroom te wees en min te besit as om boos te wees en baie besittings te hê. Want die mag van die bose sal verpletter word, maar die HERE sal die regverdiges beskerm. Die HERE ken die lewensdae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir altyd bly bestaan. In slegte tye sal hulle nie verleë wees nie; selfs in hongersnood sal hulle genoeg hê. Maar die goddelose sal vergaan. Die vyande van die HERE sal wees soos mooi weivelde wat soos rook verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige gee vrygewig. Hulle vir wie die HERE seën, sal die land besit, maar hulle wat Hy vervloek, sal uitgeroei word. Die HERE bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die HERE hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie. Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën. Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land. Want die HERE het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan. Die regverdiges sal die land besit en daar vir altyd woon. Die regverdige het wyse raad; wat hy sê, is regverdig. Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ’n voet verkeerd sit nie. Die goddelose wag die regverdige in, en wag vir die kans om hom dood te maak. Maar die HERE verhoed dat hy in hulle mag val sodat hulle hom skuldig kan bevind wanneer hy voor die gereg kom. Vertrou die HERE en volg sy voorskrifte. Hy sal jou ophef sodat jy die land sal besit en die goddelose se uitwissing sal sien. Ekself het dit sien gebeur: Hoogmoedige en bose mense floreer soos welige bome. Maar toe ek weer kyk, was hulle weg! Hoewel ek hulle gesoek het, kon ek hulle nie kry nie! Maar kyk na hulle wat eerlik en opreg is, want die toekoms van so ’n mens is vol vrede. Maar oortreders word saam vernietig; hulle toekoms sal tot ’n einde kom. Die HERE red die regverdiges; Hy is ’n toevlug in moeilike tye. Die HERE help hulle, en red hulle van goddelose mense. Hy red hulle, want hulle skuil by Hom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 37:1-40