SPREUKE 6:12-19

SPREUKE 6:12-19 NLV

’n Nikswerd mens en ’n mens vol onreg verkoop altyd leuens. Hy knipoog vir sy maats, hy beduie met sy voet, hy gee met die vingers tekens van sy planne. Hy kom altyd met ’n skelmstreek. Hy maak moeilikheid so ver hy gaan. Maar so ’n mens se ondergang kom baie skielik. Hy stort in duie en niks kan hom dan red nie. HERE Daar is ses dinge wat die HERE haat, nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ’n afsku het: oë vol hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat onskuldiges doodmaak, ’n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop, ’n vals getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers.