NEHEMIA 4:1-6

NEHEMIA 4:1-6 NLV

Toe Sanballat hoor dat hulle besig was om die muur te herstel, was hy baie kwaad. Hy het in woede uitgebars en smalend met die Jode gepraat. Hy het voor sy vriende en die leër van Samaria uitgevaar: “Wat dink hierdie armsalige Jode doen hulle? Dink hulle miskien hulle kan die muur in een dag bou as hulle net genoeg offers bring? Kyk net hoe lyk die swartgebrande klippe wat hulle onder die rommel uitkrap om weer te gebruik!” Tobija die Ammoniet wat langs hom gestaan het, het gesê: “Daardie klipmuur sal omval selfs as ’n jakkals daarop loop!” Toe het ek gebid: “O God, hoor ons tog, want ons word verag. Laat hulle beledigings teen hulle draai. Laat hulle self die buit wees, gevangenes in ’n ander land! Moenie hulle skuld oorsien nie. Moet ook nie hulle sondes sommer net voor U uitvee nie, want hulle het U uitgelok om hier voor die bouers u woede te wys.” Die mense het baie hard gewerk. Uiteindelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou.