Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.”
Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?”
“Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord. Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word. Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta.
Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer.
Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken.
Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.
Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad. Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.”
Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.”
Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte? Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie? Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”
Hulle antwoord Hom: “Twaalf.”
“En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”
“Sewe,” het hulle geantwoord.
“Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.
Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak. Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”
Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”
Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien. Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”
Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?”
“Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”
Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”
Petrus antwoord: “U is die Messias.”
Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.
Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan. Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.
Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”