Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!” Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep. Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!” En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan. ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.
Lees MARKUS 1
Luister na MARKUS 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 1:14-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's