MATTEUS 27:1-14

MATTEUS 27:1-14 NLV

Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk. Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig. Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!” Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.” Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op. Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.” Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word. Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is – en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.” Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie. “Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra. Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie.