LUKAS 21:25-36

LUKAS 21:25-36 NLV

“Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe. “Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word. En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens, sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.” Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is. Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. “Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.” “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom. Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 21:25-36